Wat ‘n jaar van geesbou! Hierdie jaar was die cheerleaders baie entoesiasties en het beslis D.F. Malherbe se grootste verwagtinge oortref. Die eerste oudisies is gehou en tot niemand se verbasing was daar geensins ‘n tekort aan talent nie. Uiteindelik moes die lang lys van belangstellendes na sewentien graad 10 en 11 jubelende cheerleaders verkort word. Gewone, rustige Sondae is met oefensessies vervang, wat hulle in staat gestel het om al die bewegings met perfeksie uit te voer. Voor die aanvang van die interskolekompetisie, het die cheerleaders D.F. Malherbe se personeel en leerders se asem weggeslaan met hulle verruklike ritme en passie. Natuurlik, het hulle baie hulp en ondersteuning van ons leweransiers, #Hashtag ontvang, wat die stylvolle uniforms en pom-poms aan die leerlinge voorsien het. Gedurende die interskolefeestelikhede, was hulle vasberadenheid, ywer en energie duidelik sigbaar. Ons jubelende span het beslis bewys dat hulle gedugte opponente tydens hul optrede was. Ons verwag dat daar in die toekoms selfs nog meer opwindendheid vir die cheerleaders en D.F. sal wees.